“Dalk is daar ‘n rede hoekom God nie altyd ons gebede beantwoord nie. Ons weet mos nie wat SY plan behels nie!!!
Die son staan vir 'n oomblik stil en kyk vir Tant Hester waar sy besig is om hulle enigste bokooi te melk. Dan sak dit vinnig weg sonder om weer terug te kyk.
Oom Servaas kom aangestap met 'n arm vol hout en gaan plak dit langs die koolstoof neer. Die ou bokooi het nie meer veel melk nie, en Tant Hester kry maar net 'n halwe koppie melk wat sy op die tafel gaan neersit.
Dis Ou Kersaand.
Terwyl Oom Servaas die vuur maak brand, krap Tant Hester al wat 'n bestanddeel is, uit die kas en kry 'n driekwart koppie koekmeel. Die halwe brood wat sy nog het skuif sy op sy, want vanaand sal hulle twee vir oulaas lekker eet. Oom Servaas is tog so lief vir gebakte bruin poeding. Met die bietjie meel en melk kan sy darem amper 'n halwe resep aanmaak. Die botter meet sy versigtig af want dit is ook die laaste bietjie en sy moet oorhou vir more om saam met die brood te eet. Sy skep bietjie appelkoos konfyt uit en dan begin sy die mengsel aanmaak.
Die vuur begin knetter in die koolstoof as sy die poeding opsit. Dit moet omtrent 'n uur prut.
Sy skil nie die laaste drie klein aartappeltjies af nie, want dan is daar niks van oor nie. Sy sit die misbredie, wat so welig in die kraal groei na die goeie reën, saam met die aartappels op. Die stukkie fisant wat nog oor is rond hulle koningsmaal af.
Tant Hester doen alles met sorg en liefde, want hulle weet dat hierdie hulle laaste maaltyd vir 'n baie lang tyd sal wees. Oom Servaas gaan bad en trek hom skoon aan vir die spesiale maal. Tant Hester maak die kombuis skoon en loer vir oulaas na die karige, maar geurige maaltyd voordat sy ook loop klaarmaak.
Oom Servaas stap op en af in die ou huisie, opgewonde dat hulle twee na 52 jaar se huwelik nog 'n Kersfees saam sal deurbring. Verbeel hy hom of was daar 'n klop aan die deur. Hierdie deel van die Bosveld het mos omtrent ontvolk want die meeste boere is eintlik sakemanne van die stad. Na die tragiese ongeluk van hulle enigste dogter het hulle die plaas verkoop en lewensreg op die ou opstal behou. Hier kom g'n mens ooit by hulle nie. Daar is dit weer. Weliswaar 'n klop aan die deur.
Oom sevaas stap deur se kant toe en Tant Hester sluit vinnig by hom aan. Voor hulle staan 'n middeljarige man, duidelik afgemat en moeg.
Hy stel homself voor as Josef Hayes. Hy is nou al vir ses dae op reis vanaf Suid-Wes na Pretoria, waar sy ouers woon. Dis deesdae baie moeilik om rygeleenthede te kry en hy het vandag sowat 40 km ver gestap. Hy vra baie mooi vir 'n rusplekkie vir die nag. Oom Servaas nooi die man in. Die geur van kos hang in die huis. Josef het lanklaas geëet en snuif behaaglik in die lug. Daar is kwalik genoeg kos vir een mens, wat nog van drie.
Oom Servaas knik sy kop en Tant Hester verstaan. Sy bied vir Josef kos aan en hy aanvaar dadelik die aanbod. Sy sit die kos op die tafel en dek een bord.
Josef val weg asof hy nog nooit geëet het nie, en kort voor lank lek hy letterlik die potte uit. Tant Hester bied koffie aan. Gelukkig drink Josef swart sterk koffie sonder suiker. Sy slaak 'n sug van verligting, want hulle het nie melk of suiker nie.
Na koffie sit hulle nog 'n rukkie en gesels, maar Josef is duidelik baie moeg. Tant Hester wys vir hom die badkamer, en terwyl hy bad, kry sy vir hom 'n bed gereed. Dis baie jare laas dat iemand in die spaarkamer geslaap het.
Daarna gaan haal sy die halwe brood uit, sny dit en sit die laaste bietjie botter op. Sy deel dit met Oom Servaas waar hulle in tasbare stilte hulle laaste maaltyd nuttig.
Daarna wag hulle dat Josef kamer toe gaan.
Oom servaas neem sy kers en Tant Hester volg hom. Hy plaas die kers in die vensterbank van die slaapkamer, dan neem hy Tant Hester se hande in syne. Hulle kyk by die venster uit en dan sluit hulle hul oë.
Oom Servaas bid uit sy hart. Eers dra hy die vreemdeling op aan die Here en vra dat hy spoedig en veilig met sy familie herenig sal word. Dan hou hy Tant Hester stywer vas as hy die Liewe Vader vra dat sy Engele tog nie in die nag by hulle huis sal verby gaan nie. Hulle sal die laaste kers brandend in die venster hou dat God nie sy bruid sal verpas nie. Dat die Hemelse Vader hulle albei in hierdie nag sal kom haal om hulle voortaan uit die Goddelike tuin te voed, en te hulle laat drink uit Sy fontein. Hulle het sekerlik nou aan die einde van die pad gekom, want daar is nou niks meer oor vir hulle nie.
Oom Servaas bid met emosie en sy lippe begin bewe as hy pleit dat hulle gereed is vir die reis na die ewigheid.
Langsaan, in die spaarkamer lê Josef en luister na die opregte emosie belaaide gebed en besef, met groot skuldgevoel en hartseer, dat hulle onbaatsugtig hul laaste maaltyd vir hom wat Josef is, afgestaan het. Josef slaap die nag nie goed nie.
Vroeg oggend staan Josef op. Hy is bang om deur die huis te stap, bang om aan hul deur te klop. Bang dat die Here gehoor gegee het aan Oom Servaas se pleidooi. Daarom sluip hy stilweg uit en kry koers.
Hy is gelukkig om vinnig 'n geleentheid te kry na die volgende dorp, waar hy 'n muntbus gaan soek en sy ouers skakel.
Hy huil en praat deurmekaar as hy hulle vertel van sy ervaring van die vorige nag.
Oom Servaas staan op en kyk die man agterna soos hy wegstap. Hy draai om en wens Tant Hester 'n geseënde Kersfees toe. Hulle sit op die stoep en drink hulle swart bitter koffie. Vandag sal hulle daarop moet staat maak, want hulle laaste maal was gisteraand.
Oom Servaas begin rondstap op soek na veldkosse. Tant Hester gaan oes misbredie in die kraal. Sy betrek die bokooi en karring nog 'n halwe koppie melk uit die uier. Oom Servaas kom heelwat later terug met 'n handjie vol suurpruime, en moretla bessies. Hulle eet saam aan die gawe van die natuur. Die res van die dag is mistroostig en teen laatmiddag neem Oom Servaas die Bybel op en gaan wag vir Tant Hester op die stoep. Vanaand sal hulle honger gaan slaap.
Tant Hester vee haar hande droog aan haar rok en kom sit langs Oom Servaas. In die groot pad hoor hulle 'n voertuig wat spoed verminder, en later stilhou.
Na 'n ruk kom daar nog een aan, en later nog een. Na sowat vyftien minute kom drie voertuie in hulle pad opgery en kom voor die tot stillstand.
Oom Servaas stap die motor tegemoet. Josef klim uit en vat Oom servaas se hande in syne vas terwyl die trane in sy oë vertroebel.
Josef draai om en stel sy Pa aan Oom Servaas voor.
Dr. Hayes tree nader en stel sy hele gevolg voor. Al drie mans is vennote in dieselfde mediese praktyk.
Hulle bring vir Oom Serfaas hulle kos voorrade en onderneem om voortaan elke maand hierdie twee ou mense te kom versorg, vir die onbaatsugtige naastediens wat hulle die vorige aand aan Josef, ‘n totale vreemdeling, bewys het.
Oom Servaas draai na Tant Hester en sê:
"Dit is hoekom God nie ons gebed verhoor het nie, want Hy weet van nog 'n stukkie pad vir ons oor is. Sy genade is oneindig groot en dis al wat ons nodig het."
Nog n stukkie pad oor...
en baie Genade.
Skrywer onbekend